Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012
Die langverwagte tweede uitgawe van Kraal Uitgewers se boek Treurgrond is nou beskikbaar en bestellings kan nou geplaas word. Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012 volg op sy voorganger wat in 2011 uitgereik is. Meer as 3 300 plaasaanvalle – sowat 700 meer as in die vorige boek – is nou in Treurgrond opgeteken.
Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012 bevat onder meer die volgende:
- Die grootste en betroubaarste databasis van plaasaanvalle in Suid-Afrika van 1990 tot 2012 waarin sowat 3 300 aanvalle en minstens 1 600 moorde gelys is.
- Bygewerkte en verbeterde inligting oor aanvalle, met meer detail en feite oor die aanvalle self, die vervolging van aanvallers en die vonnisse wat aanvallers uiteindelik opgelê is.
- Treffende persoonlike vertellings van slagoffers, familie en vriende van slagoffers oor die trauma, hartseer en verlies weens dié aanvalle.
- Navorsingsartikels deur vooraanstaande kenners op die gebied van plaasaanvalle wat onder meer ondersoek instel na die potensiële uitwerking van plaasaanvalle op die gemeenskap en die gebruik van oormatige geweld in plaasaanvalle.
- ʼn Voorgestelde model vir ʼn basiese gemeenskapsveiligheidsnetwerk soos opgestel deur ʼn voormalige SAPD-speurder en misdaadkenner.
- Kunswerk deur die bekroonde Bloemfonteinse kunstenaar, Pauline Gutter, met plaasaanvalle en die weerloosheid van die plattelandse gemeenskap as tema.
- Agt roerende gedigte wat die hartseer van verlies, woede en bitterheid oor plaasaanvalle verwoord. Twee hiervan kom uit die pen ʼn pa wat self sy agtjarige seuntjie in ʼn plaasaanval verloor het.
- ʼn Handige alfabetiese indeks met die vanne van alle slagoffers wat in die boek gelys is om die naslaan van familie, vriende en kennisse te vergemaklik.
Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012 is beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R350 (R40-posgeld uitgesluit). Om die boek te bestel, SMS “TREUR” na 34388 of stuur ʼn e-pos na kraal@solidariteit.co.za.